Redenaars

OPPIE SEEPKIS – 22-26 Februarie 2016        

 

Ons Oppie Seepkis kompetisie lê voor die deur en ons is opgewonde om na ons kinders se menings en uitsprake te luister.

 

Die ATKV se onderwerpe vir 2016 sal ook vir ons kompetisie gebruik word en ons deel dit graag weer met julle.

Hierdie is slegs temas waaruit enige verwante onderwerp dan gekies kan word.

 

Ek sluit ook vir u ‘n gedeelte in uit die ATKV se nuusbrief wat handel oor die koop van toesprake asook kursusse vroeg in 2016.

 

GRAAD 1 TOT 3

  1. Ledigheid is die duiwel se oorkussing.
  2. As die vlooi byt, moet jy krap.
  3. Elke haan is koning op sy eie mishoop.
  4. As twee hande mekaar was, word albei skoon.
  5. Om van ’n padda vere te probeer pluk.
GRAAD 4 TOT 5

  1. Bloed kruip waar dit nie kan loop nie.
  2. Die pap dik aanmaak.
  3. Wie wind saai, sal storm maai.
  4. Jou eie boontjies uitdop.
  5. Die oggendstond het goud in die mond.

 

   
GRAAD 6 TOT 7 Huistaal en Addisionele Taal

  1. Iemand se achilleshiel.
  2. As die hoenders tande kry.
  3. ’n Man van twaalf ambagte en dertien ongelukke.
  4. ’n Haastige hond verbrand sy mond.
  5. Elke bobbejaan het sy krans.

 

 

 

Ons doen weer eens ’n beroep op u om asseblief u deelnemers en ouers te ontmoedig om toesprake te koop. Moedig hulle eerder aan om die kursus by te woon sodat hulle bemagtig kan word om self hul eie toesprake te kan skryf.

 

Dit het onder die ATKV se aandag gekom dat al hoe meer mense en organisasies op die ATKV se rug ry en sonder die ATKV se toestemming en medewete “vir die ATKV” toesprake skryf en kursusse, selfs afrondingskursusse, aanbied. Hierdie mense doen dit net vir hulle eie finansiële gewin en die toesprake word, hoe hulle die ouers ook al anders probeer oortuig, aan verskeie deelnemers oor die hele land verkoop. Die beoordelaars hoor al hoe meer dieselfde gekoopte toesprake vier tot vyf keer tydens die uitdunrondes. Deelnemers wat ’n toespraak lewer wat voorheen al gelewer is word gediskwalifiseer (selfs al is dit ’n ou toespraak van ’n vorige jaar).

 

Inskrywingsvorms sal op 3 Februarie  by die Afrikaanse onderwysers (graad 4-7) en by Juf Liesel Weyers (GF) te kry wees en moet weer op die laatste 12 Februarie by die skool terug wees. Inskrywingsgeld beloop R20 per leerder.

 

Begin gerus skryf en mag die muse met u wees … inspirasie kom dikwels op die mees onverwagte tye en plekke.

RIGLYNE VIR SKRYF V TOESPRAAK 2016